Hierdie trip (Luvuvhu Trail) was ‘n droom vir my man vir baie lank, nie regtig vir my nie!  Ek was tot die middag wat ons gery het nog nie lus hiervoor nie en het maar die heletyd probeer opgewonde klink maar het nie geweet wat om te verwag nie, was bang vir die toilet geriewe, wat daar nie is nie, ens.  Ek het gegaan met vrees in my hart en met ‘n hoop dat my man sy droom kan uitleef.  Daar kry ek en hy meer as wat ons voor gehoop het!

Met ons ontmoeting met Hennie het hy my rustig gehad en ek het sommer hope beter gevoel!  Die groep mense wat saam gegaan het is nou my vriende en ek kon nie vir beter genote gevra het vir hierdie amazing ondervinding nie! 

Hennie is maklik een van die snaakste persone wat ek al in my lewe ontmoet het en het my sy ongelooflike persoonlikheid die trip super lekker gemaak.  Ek kan nie onthou wanneer laas ek in my lewe so lekker gelag het vir iemand se segoed nie!  Sy kennis van die veld en diere is baie goed en ek kan selfs bome se name onthou wat ek nooit voorheen eers gedink het aan om na te kyk nie.  Hy het ons deurentyd rustig gehad, voor die tyd mee gesels dat jy nie bekommerd was oor die pad wat voorlê vir die dag nie en as ons by ‘n obstacle gekom het het hy ons rustig deur dit gepraat, niks het moeilik gevoel nie.  Ek was so bang vir die paaie en hy het deurgans vir ons raad gegee en ons deur alles gepraat en gegrap sodat ek nie eens agtergekom het partymaal waar en hoe steil ons ry nie!!

Dan wil ek kom by Japie.  Hy het baie gehelp en het ook nes Hennie ‘n baie goeie kennis van die bos en die diere.  Ek dink dit was ‘n baie goeie idee om ‘n gids en ‘n veldwagter saam te stuur.  Die een kon kyk vir die spore ens en die een kon ons help met die pad bv.  Hoe om hulle ookal gewerk het, die twee het ‘n baie goeie span gemaak.

Japie het ons baie veilig laat voel ook veral in die aande met sy kennis van die wild en ook sy rondtes of “perimeter checks” soos hy dit genoem het. 

Laastens wil ek net sê, as ‘n tipiese stads meisie het ek hierdie in my top 5 vakansies/ervarings gelys en was skoon hartseer toe ons daar wegry.  Dit was een van die mees amazingste ervarings wat ek nog beleef het en ek voel so uitgerus en vernuwe, al moes ek tent op en afslaan elke dag en het wel ook ‘n nael gebreek, het niks van dit saak gemaak nie, want die bos het in my hart in gekruip.

Dankie vir almal van julle wat dit vir ons moontlik gemaak het om die onvergeetlike ervaring te kon  beleef het en glo vir my dit is nie ons laaste een nie, ek wil sommer nou al aan ons volgende bos ervaring begin beplan!!!

Groete en mag julle baie geseënd wees in alles wat julle aanpak.

Lourika van Aswegen 3 Oktober 2013