Vreemde gesig in die Groot-Limpopo-oorgrenspark

Op hierdie vyfdag-roete kom jy nader aan die natuur as ooit tevore.

Maande se beplanning en ongekende Facebook-kommunikasie realiseer 13 Desember 2011 as tien motorfietse en die rugsteunvoertuig van André de Villiers van Safari Centre hulle weg in die rigting van die Groot-Limpopo-oorgrenspark baan. 

Van so ver as Amersfoort en die res uit Pretoria ontmoet die groep wat ‘n dame motorfietsryer (Dani du Preez) insluit, mekaar by Lakenvlei  Country Lodge net skuins anderkant Belfast in Mpumalanga. 

Na ‘n gesellige ken-mekaar-kuiertjie om ‘n tafel trou aan die feesgety gedek, gaan almal vroeg kooi toe in afwagting op wat die volgende vyf dae gaan oplewer.  ‘n Piet-my-vrou weergalm deur die dennewoud tot diep in die nag.

Dag 1:  Lakenvlei – Manyeleti Park

Omstreeks 15:00 dreun die fietse tot stilstand by Manyeleti park net Suid van die Orpen Hek van die Kruger Nationale Park.  Hier word die fietse veilig in bewaring gehou en ‘n wildsvoertuig neem almal met hulle bagasie na Ndzaka kamp.  Sommer by die eerste dammetjie begroet die eerste van die groot vyf ons… ‘n paar buffels wei langsaam in die gras langs die water. Piet-my-vrou laat ons welkom voel en ons trek in ons kamptente in.  By die bymekaarkomarea drink ons ‘n “koffietjie”. ‘n Trop bobbejane het familietwis en terwyl ons die petalje voor ons dophou, geniet die apies solank ‘n vroeë aandete in een van die tente as hulle die mieliemeel ontdek.   Welkom in Afrika.Die groep kom vroeg in beweging en nadat ons gids, Johan Kriek van Transfrontier Parks Destinations (TFPD), en Tertius du Plessis (CMM-organiseerder) die nodige inligting rondom die verloop van die dag met ons gedeel het, word daar in die pad geval.  Mistige reën en ‘n koel windjie is ‘n bedekte seen vir die motorfietsryers.  By Long Tom-pas word die nodige foto’s geneem vir die “Pretoria BMW-klub se passe uitdaging”. Die grondpad tussen Sabie en Klaserie word vervang met die teerpadroete.  Die vermoede is dat die pad na die baie reën superglad en onbegaanbaar gaan wees. Vir middagete doen ons aan by Timbuktu in Klaserie.

Die wildsvoertuig kom laai ons op vir ‘n laatmiddag rit.  Gelukkig is daar nie plek vir almal op die trok nie en André besluit om met sy wel toegeruste Fortuner ook saam te ry.  Na die reën is die tweespoorpaadjie glibberig en by die eerste groterige poel kies die drywer verkeerde lyn en nadat die trokkie sy agterstewe so drie maal moedswillig heen en weer geswaai het, sak sy wiele saggies in die koel modder in.  Hierdie is André se kos en vinnig het hy en sy vrou Yvonne die kinetiese sleeptou in gereedheid.  Die trok kom soos ‘n krap skeef-skeef uit die modder tot op vaste grond.  Nou weet ons hoekom die 4×4 spesialis moes saamkom.

Die son begin kop neerlê in die weste.  Ons sien Njala, waterskilpaaie,  seekoeie, rooibok en Piet-my-vrou laat weet dat ons nou kamp toe moet draai vir ‘n lekker kuier om die kampvuur.

Skuins voor middernag weergalm ‘n geweerskoot…. Nog ‘n Witrenoster wat sneuwel in die Afrika bos?

Hiëna se kind kom besoek ons kampie gedurende die nag en maak seker ons weet van sy aankoms as hy luidkeels groet.  Daarna daal die stilte weer neer en dié wat nie te warm kry nie, slaap rustig tot die son ‘n nuwe dag in Afrika aankondig.

Dag 2: Manyeleti Kamp – Letaba Ranch

‘n Wildrit die volgende oggend lewer baie kleinwild en talle roofvoëls soos die bruinarend en roofarend op.  Groot wild hou hulle egter skaars aangesien water in die veld oor as genoeg is.

Na ‘n vinnige koffietjie en nadat elkeen ‘n ontbyt van een of ander aard aangeslaan het, spring ons op die trokkie met die Fortuner wat volg.  Piet-my-vrou wens ons weer ‘n veilige rit toe.

Oppad na die hek ry ons verby die SAP wat ‘n kringetjie maak om ‘n enkele geweerdoppie in die pad….   Ons vermoede van die vorige aand word wreed bevestig. Die renoster sien ons gelukkig nie.

By die hek saal elkeen weer sy perd op.  Met groot opwinding word daar vertrek na Letaba Ranch.  Hierdie is die eerste kamp waar daar ooreengekom is tydens maande se onderhandelings met Parkeraad dat die fietse mag ry tot by Mtomeni wilderniskamp.

Temperature van meer as 35ºC beproef die fietsryers se uithouvermoë.  Middagete is ‘n vinnige beenstrek onder koeltebome in Phalaborwa by die Bollonato Inligtingsentrum.

Die roete word weer aangepas en ‘n paar grondpaaie word ter wille van veiligheid vermy.  Die laaste stukkie na Letaba Ranch is egter weer grondpad en die manne (en dame) skop goed stof op met ‘n wuif hier en daar na die plaaslike bevolking. 

By die hek gekom ontmoet ‘n groot teleurstelling die motorfietsryers as daar aan hulle gesê word dat hulle nie toegelaat gaan word om in te ry nie.  In die bloedige son probeer Johan die saak beredder, maar Parkerraad hou nie by hulle woord nie en maande se ondehandelings kom tot niks.

Twee motorfietse word egter onder begeleiding toegelaat om tot by Mtomeni Wilderniskamp te ry nadat daar verduidelik is dat Tertius en Peet se motorfietstente nie op hulle eie staangemaak kan word nie, maar dat die fiets die “tentpale” is.  ‘n Klein bietjie welslae!

Na die uitputtende hitte van die dag drapeer almal hulle oor ’n stoel en luister na die visvangertjies en waardeer die uitsig oor die Letaba rivier.  Die vloedlyn van 2000 lê as getuie van die groot mag van die natuur.  Na bewering moes hierdie kampie herbou word nadat alles weggevee is deur die groot waters. ‘n Paar bosbokkies kom drink sku in die laatmiddag.

Die teleurstelling van die middag is gou vergete as die vuurvliegies die nagruim kom opkikker.  ‘n Groot gekuier om die vuur getuig van ‘n gemeenskaplike belangstelling…. moeder natuur.

Dag 3: Letaba Ranch – Makuya Park

‘n Ratel wat vinnig gesig wys in ‘n oop stukkie veld sorg dat die vroegoggend wildrit nie heeltemal vrugteloos is nie.

Vinnig pak en weer in die pad val Noorde toe deur die land van die Shangaans.  Vandag gaan ons die verste afstand tussen parke aanpak wat ons oor die Luvuvhu rivier neem tot in Venda.  Daar hang so ‘n ligte wolkie oor die groep as elkeen wonder of hulle by Makuya park toegelaat gaan word om in te ry.  Die Piet-my-vrou en Visvanger groet en daar gaan ons.

Ligte reën maak alles weer koel en ten spyte van die nat grondpad, is daar kans om die natuur in te neem. Mopanies staan bankvas. ‘n Swerm blousysies maak hulle verskyning om net so vinnig weer die veiligheid van die bos op te soek.

By Makuya Park aangekom, wag almal in spanning as Johan met die man van Natuurbewaring by die hek gaan gesels.  Groot is die opwinding as hy aandui dat die fietse mag inry.  En so maak ons geskiedenis….  Onder begeleiding van die wildsvoertuig baan tien motorfietse in gelid hulle weg na Singo Safari Lodge.  ‘n Paar rooibokke kyk nuuskierig op as hierdie vreemde geluid hulle ore begroet, dan gaan hulle weer rustig aan met vreet.

‘n Ongelooflike uitsig lê stil in die laatmiddag son.  Die Levuvhu rivier maak sy draai reg onder ons voorstoep. ‘n Arend sweef tussen ons en die seekoei op die oewer. Katlagters baljaar in die bos teen die rotse en ons wonder wat soek ons in die stad…

Singo Safari Lodge se kragopwekker kom tot rus om 22:00.  Dis stikdonker en die stilte maak ons ore pyn.  Die rivier se stroomversnellings stoot  sy note saggies teen die kranse op tot waar ons rustig in die bed lê en Afrika beluister. Dit was aand en dit was more… en dit was goed.  

Dag 4: Makuya Park – Nwanedi Wildreservaat

Daar is nie haastigheid vanoggend nie en geen wildrit wat ons laat skuldig voel as ons nie vroeg wikkel nie.  Om 10:00 vertrek ons na die laaste baken op ons roete, Nwanedi Wildreservaat. Grondpad en teerpad wissel mekaar af.  Die grondpad sorg vir pret as sand plek maak vir harde grond en harde grond plek maak vir klip.  Die grondpadvrate is in hulle element. 

Een vir een begin reuse Kremetarte gesig wys. ‘n Besoek aan die Suidelike halfrond se grootste kremetart laat ons klein voel.  ‘n Ou man van Afrika vertel vir ons die boom se geheime. Met ‘n ouderdom van meer as 3500 jaar, vryheidsvegters wat in sy stam geskuil het en wortels wat kilometers ver strek, staan hy as baken van ons erfenis.

Plaaslike bevolking staar nuuskierig as die motorfietse verder voortbeur. Dis dan ook ten aanskoue van een van hierdie gehore dat een van ons lede besluit om vir hom ‘n stukkie grond te koop.  Die 4×4 ondersteuningspan is maar te dankbaar dat hulle slegs nodig het om ‘n paar gebreekte parte en sytasse van sy fiets te red.  Behalwe vir ‘n ego vol krake is daar net ‘n merkie in die sand wat getuig van ‘n paar benoude oomblikke.

Die laaste stoot tot by Eclipse kamp gaan vinnig verby.  Die wild hou hulle by die water in die veld. Net bobbejaan- en aap-se-kind kom groet ons by die kamp.  Piet-my-vrou stel nie teleur nie.

Ons verruil die braaivleisvure op hierdie laaste aand vir ‘n aansitmaal van formaat.  Nabetragting word gehou oor die volhoubaarheid van hierdie nuwe avontuur en almal is dit eens dat hierdie nie ‘n laaste moet wees nie. 

Dag 5: Terug huis toe:

Vir oulaas word die fietse en rugsteunvoertuig gepak en die grondpad verander spoedig in die teerpad huis toe. Afrika het nie teleurgetsel nie!  Dankie Johan en Tertius vir hierdie droom van natuurliefhebbers wat toevallig ook motorfietsryers is wat julle werklikheid laat word het.

Finale woorde:

Donnie van Zyl: Ek was al op verskeie toere op my 1150 GS. Hierdie toer was een wat ek nooit sal vergeet nie, om ‘n paar redes. Die roete was uniek: groot vyf parke, gruispad, sandpad, modderpad, klipperige pad en teerpad met draaie. Die kampe was basies toegerus, so ons kon deel wees van die pragtige natuurskoon. Die mense was onbekendes op dag 1, en vriende op dag 5 – mense van verskillende agtergronde met avontuur op motorfietse as gemene deler. Ek was baie bevoorreg om hierdie ervaring te kon deel met my seun, Marius Van Zyl, – sy eerste motorfietstoer! Beslis nie die laaste pa en seun toer vir ons nie.

Mike: Die was my eerste “bike tour” – maar wat ‘n toer! Wat vir my besonders was is dat die meeste van die plekke wat ons besoek het, veral in die Transfrontier Park – is moontlik kampe wat meeste mense nooit sal sien of besoek nie. En – om agterstraate en grondpaadjies te ry wat ek nie geweet het bestaan nie. Die reën wat ons in gery het het die pret net vermeerder en ons afgekoel. Ons toerlyer Johan Kriek was ‘n ware professioneel, en Andre van Safari Centre met sy “backup vehicle” was daar – dus kon ons die toer geniet en weet dat hulp net ‘n paar meter agter ons was. Dankie vir almal wat die toer moontlik gemaak het, veral aan Tertius.

Peet Townsend: Daar is iets spesiaals wat met ‘n man gebeur wanneer hy homself uitdaag om iets te doen wat hom weerlooskanlaat,  dit wakker sy kryger hart aan en hy begin om die avontuur te lewe wat Vader vir hom beplan het. Die afgelope bosveld trip was so ‘n geleentheid en dis presies waarom ek begin motorfiets ry het. Daar was baie uitdagings wat voor my gelê: mis, reën, grond, klippe, modder, hitte om nie eers van al die insekte te praat nie. Bowenal kon ek ook stil raak in Sy teenwoordigheid, nadink aan die dag se gebeure en hoe Sy hand van beskerming oor elkeen van ons was om elke draai en oor elke bult. Dit was ‘n voorreg om met soveel kleurryke karakters om ‘n kamp vuur te kon sit en kuier. Ons is nou meer as net kennisse, hegte vriendskappe is gesmee en ons het die Adventure geleef of is dit nou oorleef?!